摘要:Die verskillende benaderings tot die strafregtelike aanspreeklikheid van regspersone lê die spanningsveld tussen die individualisme of nominalisme aan die een kant en die realisme, aan die ander kant bloot. Regspersone bestaan volgens individualistiese regspersoonsteorieë bloot uit samevoegings van individue. Volgens die individualistiese teorieë moet die gedrag en skuld van individue dus op die een of ander wyse aan die regspersoon oorgedra word alvorens dit strafregtelik aanspreeklik gestel kan word. Vir die realiste is die bestaansreg van regspersone onafhanklik van hul samestellende individue en word dit beklee met 'n unieke (en vir sommige realiste, 'n morele) persoonlikheid. Foerschler skryf byvoorbeeld dat die reg die korporatiewe struktuur moet beskou as "an intentional agent in and of itself." Die idee dat regspersone direk strafregtelik aanspreeklik gestel word op grond van hul besondere identiteit of die heersende kultuur van die regspersoon is 'n ontwikkeling wat veral in die Amerikaanse regsliteratuur op die voorgrond geplaas is.